Die finale eksamen vir die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS) begin in alle erns as leerders vandag die eerste van hulle drie vraestelle in die vak Engels skryf.
Oor die volgende 29 dae (21 Oktober tot 28 November) sal hulle die geleentheid hê om die kennis en vaardighede wat oor 12 jaar ontwikkel is, daadwerklik toe te pas.
Op sosiale media word daar baie gesê oor die onderwerp van matriekeksamen, maar die belangrikste bly elke matrikulant se toewyding. Toewyding beteken dat jy net so getrou sal werk, soos wat jy aan die begin van jou skoolloopbaan gewerk het. En dit hang van jouself af. Almal, van jou ouers, onderwysers, vriende tot familie het jou al moed ingepraat, gemotiveer en ondersteun jou, maar nou is dit tyd dat jy alles moet gee.
Hierdie punte waarvoor jy nou werk, gaan vir jou deure oopmaak of toemaak. Jy het nou die geleentheid om vir jou 'n geleentheid te skep, soos in die woorde van Chris Grosser: Geleenthede gebeur nie net nie, jy skep dit.
Die lewe is nooit sonder moeilike tye nie. Daar sal altyd storms, suidewinde, Jantjies en valse vriende wees wat oor jou pad gaan kom. Op hierdie stadium is jy besig met die storm van jou laaste skooleksamen. Wees jou eie weldoener, help jouself en word die wenner wat jy eintlik is.
Matrieks, mag dit met julle goed gaan. Sterkte vir julle uitslae in Januarie. Onthou: 'n Mens bou elke dag aan jou toekoms.