Ben Viljoen aangewys as mees innoverende skool in Limpopo 2009!
‘n Paar maande gelede is Hoërskool Ben Viljoen deur die Limpopo Onderwysdepartement uitgenooi om deel te neem aan die jaarlikse kompetisie vir skole wat uitnemend presteer (Limpopo Departmental Service Excellence Awards). Deelname aan die kompetisie is veeleisend en verg baie manure.
Fase 1 het behels die voltooiing van vereiste dokumentasiebundels wat ‘n span personeellede langer as ‘n week besig gehou het. Alle prestasies moes met dokumentêre bewys bevestig word. Die 2de fase het etlike onderhoude behels waartydens PowerPoint aanbiedings ‘n vereiste was. Uiteindelik is die finaliste aangekondig. Tydens die 3de en laaste fase van die kompetisie het die evalueringspan die skole self besoek om hul te vergewis van dit wat hul in die dokumentasie en aanbiedinge gehoor en gesien het.
Die wenners van hierdie kompetisie is op 26 November tydens ‘n gala-aand aangekondig. Hoërskool Ben Viljoen is aangewys as die mees innoverende skool in Limpopo vir 2009.
Vir Hoërskool Ben Viljoen se skoolgemeenskap is 2009 ‘n besondere jaar van erkenning en pryse. Nie alleenlik is die skool deur die Sunday Times aangewys as die 6de beste skool in Limpopo op grond van matriekuitslae nie, maar het die skool ook ‘n gunstige artikel in die Beeld se hoofbladsye ontvang en nou dan ook hierdie toekenning.
Die hoof dank die Hemelse Vader vir hierdie besondere seën, want sonder Sy genade sou dit nie moontlik gewees het nie. Tweedens bedank hy al die ouers en kinders en die wenpersoneel van Hoërskool Ben Viljoen. Laastens bedank hy ook die taakspan wat betrokke was met hierdie kompetisie, onder leiding van Magnus Steyn naamlik: Louis du Preez, Menanteau Roos, Mellemie Wessels, Izelle de Beer, Linda Steyn en Talitha Segokodi.


