Hier is kultuur ’n passie wat nie net by ’n hartsding bly nie, maar vinnig in doen-dinge verander. Die hoofdoel van die jeugtak is om terug te gee aan die gemeenskap deur die verskillende projekte. Die ATKV jeugtak voeg jaarliks die daad by die woord met ’n program propvol projekte. Die jeugtak bestaan uit ‘n groep vrywillige leerders wat passievol is oor kultuur, taal en om stukkie-vir-stukkie te help bou aan ‘n beter samelewing.
Hierdie jaar het afgeskop met die Wasgoedlynprojek, wat jaarliks net voor die winter begin, geloods word om klere en komberse vir behoeftige mense in te samel. Die tweede projek op hulle agenda was om hondekos, kosbakke en komberse in te samel vir die plaaslike DBV.
Tussen skoolaktiwiteite deur, maak hierdie leerders tyd om terug te gee en is voorwaar 'n trots.
Tydens 2023, is ons ATKV-Jeugtak ook aangewys as die mees funksionele tak in die hele Limpopo-Gauteng streek. Jo-Mari Janse van Rensburg, die 2023 Voorsitter, was ook een van die Top drie voorsitters uit elke streek wat genooi was na die ATKV Kultuurkuier.
Ellené van der Westhuyzen, die 2024-voorsitter van ons ATKV-Befonkte Jeugtak, het die jaarlikse ATKV kongres bygewoon wat by Buffelspoort plaasgevind het. Sy sê dat dit vir haar 'n reuse voorreg was om hierdie kongres by te woon.