Daar is méér as 150 spesies uile in die wêreld, dus is daar nie één spesie wat dieselfde IS óf LYK nie. Só het God ook elkeen van julle anders en uniek gemaak. Dit is hierdie uniekheid waaroor ons so opgewonde is by Ben Viljoen.
Deur harde werk en deursettingsvermoë, het jy jouself hier, by Hoërskool Ben Viljoen, gevind, waar nuwe uitdagings, opwinding en herinneringe WAG om te gebeur. Ek hoop jy beleef in hierdie volgende vyf jaar, oomblikke wat jou asem wegslaan, die soort oomblikke wat jou menswees verander en vir altyd deel van jou bly.
Mag hierdie jaar ‘n nuwe reis wees, wat jou lewe verryk, en mag julle as graadgroep, mekaar opbou, oplig en aanmoedig.
Daar gaan altyd ‘n titseltjie onsekerheid, twyfel, bekommernis en angs wees, maar mag jy/julle áltyd die sekerheid hê van wie jy is en waar jy toevlug kan vind en sag kan land, jy gáán foute maak en belangrike lesse leer, maar hierdie foute sal jou lei na die heiligheid van jammer sê en beter wíl wees en doen.
Daar is soveel om te ervaar in hierdie nuwe wêreld van julle – en ek hoop julle beleef dit alles.
Glimlag, dans en leef!
Toets jou vlerke en …VLIEG HOOG!
Hier by Hoërskool Ben Viljoen dink en doen ons dinge bietjie anders want alles wat ons doen, doen ons met RESPEK.Hier leer ons kinders om te groei, uit teleurstellings te leer en om sukses met nederigheid te vier.
By ons vorm die leerders, personeel en die ouers die unieke hartklop van die skool. Akademie vorm die hoeksteen van ons skool en die leerders se belangstellings en behoeftes is vir ons belangrik. Dit is vir ons belangrik dat elke graad 8-leerder so tuis sal voel dat hulle sommer vinnig sal inskakel by die Ben Viljoen-pas. Ons verseker ook spesiale geleenthede, massa-deelname en hope pret.
Dit is hier waar Ben Viljoen jou huis word, waar jou vriende en vriendinne jou familie gaan word. Waar jou onderwysers jou ondersteuningsnetwerk gaan word. Waar die waardes van ons skool gaan vasgroei aan jou hart en jou drome 'n werklikheid gaan word.
Alhoewel hoërskool impliseer dat kinders ‘n stappie nader aan volwasssenheid is, vorm ouers ‘n integrale deel van alles wat die skool aanpak. Ons bedank u sommer byvoorbaat vir u positiewe betrokkenheid en gesindheid teenoor die skool. Laat u kind toenemend verantwoordelikheid neem, maar bly betrokke en weet dat ons as opvoeders saamwerk om u kind na volwassenheid te lei.
Ons vertrou dat u en u kind se verbintenis met Hoërskool Ben Viljoen vol opwinding, avontuur, nuwe vriende en interessante uitdagings sal wees. Mag hulle grense verskuif en nuwe wêrelde ontdek binne die geborge raamwerk van integriteit, lojaliteit, respek, verantwoordelikheid en omgee.
Wat kan jy verwag?
- 'n Splinternuwe manier van dink en doen!
- Verbreed jou horison en groei saam.
- Nuwe vriende! Al die graad 8's is ewe vreemd. Maak jy die eerste skuif en stel jouself voor - jy is dalk net die vriend waarvoor iemand anders gewens het!
- 'n Toekomsvisie. Ons sien hoe jy die toekoms van die land en die wêreld gaan beïnvloed en verander!
- SUKSES! Hier is deelneem lekker en sukses deel daarvan!
- Wees hier, wees betrokke, wees deel van een skool – een hartklop!
- Die beginpunt van die nuwe, beter, slimmer JY!
Graad 8 (2025) Inligtingsboekie: Afrikaans